Meer Oor Riebeeckrand

#Voluitvirriebeeckrand

Wie is Riebeeckrand

Hoërskool Riebeeckrand het in 1996 ontstaan, na die samesmelting van twee hoërskole, naamlik Hoërskool Riebeeck en Hoërskool Goudrand.

Hoërskool Riebeeckrand is tot vandag toe nog ‘n dinamiese skool wat hul visie en missie nastreef. Riebeeckrand is ‘n spog skool waar elke leerder saakmaak en elke leerder tot hul volle potensiaal ontwikkel word. Die skool is op Christelike beginsels gebaseer, maar akkommodeer ook ander gelowe. Riebeeckrand het trotse tradisies en ‘n skatkis vol aktiwiteite waaraan die leerders kan deelneem.

Die hoof, Me. Annelize van den Berg,  en die Riebeeckrand-personeel is gedrewe en daarop gerig om Riebeeckrand en sy leerders te ontwikkel en te vorm tot die beste weergawe van hulself, sodat hulle met hoop die toekoms kan binnegaan.

Die taal van onderrig en leer by Hoërskool Riebeeckrand is Afrikaans en Engels. Daar is tans parallelmediumonderrig in gr 8, 9, 10, 11 en 12.

Ons Visie & Missie

Visie:  Leef met hoop.

Missie: Die skep van ‘n veilige, gedissiplineerde omgewing deur leerders suksesvol te begelei en toe te rus sodat kennis, lewensvaardighede en kernwaardes gevestig word wat sal lei tot ‘n gebalanseerde ontwikkeling om hoop vir die toekoms te skep.

Ons leef volgens die beginsel van “Voluit vir Riebeeckrand”.

Ons wapen en skoollied

Die skoolwapen is gesamentlik deur die hoof, personeel en beheerliggaam ontwerp – onder die leiding van Mnr. Klasie van der Wal, destydse hoof van Riebeeckrand.

Die wapen simboliseer die skool se anker wat in ons geloofgesetel is, nl. “Geanker in geloof

Die leuse is die middelpunt waarin die skool se etos en missie en visie gesetel is, nl. geloof .

Die simboliek van die leuse is saamgevat in die laaste reëls van die skoollied, nl.

Want geanker in geloof in God,

Kry ons drome sin en doel.

Is ons koers en strewe reeds bepaal –

Oorwinning te behaal!

Die skoollied se woorde en musiek is geskryfdeur

Dr. Francois van den Berg.

Die skoolkleure is oranje, wit en blou.

Die slagspreuk van die skool is:

Die 10 uit 10 skool

Tradisie

By Riebeeckrand bestaan die pragtige tradisie van Poortloop. Elke gr. 8-leerder en ook nuwe leerders wat by Riebeeckrand inskryf, stap na afloop van die oriënteringsprogram en die groentjiekonsert deur die skool se Poort om as ‘n volwaardige Riebeeckrander ingeburger te word.

Met hierdie mooi geleentheid ontvang elke leerder ‘n sertifikaat en onderneem hulle om altyd deel van die spogskool en die skoolgebeure te wees. Hierdie Poort se hekke word dan deur die hoof, personeel, die beheerliggaam en die seniorraad vir hierdie leerders oopgesluit.

Aan die einde van die leerders se matriekjaar, stap hulle weer deur dieselfde Poort se hekke na buite. Dit simboliseer dat hulle as volwaardige Riebeeckranders trots die wye wêreld ingestuur kan word.

Kernwaardes

Deur die toepassing van die 10/10-kernwaardes, kan Riebeeckranders se karakter gebou word en waardes gevorm word. Ons kernwaardes is:

  • GELOOF vorm die basis van ons daaglikse bestaan en is die grondslag van alle besluite en optredes.
  • INTEGRITEIT is die vaandel waaronder alle handelinge uitgevoer word.
  • LOJALITEIT teenoor die skool, personeel en leerders moet sigbaar wees.
  • TROTS op die skool moet gekweek word deur die vestiging en beklemtoning van ‘n goeie waardesisteem, tradisies en simbole.
  • DEURSETTINGSVERMOË word ontwikkel deur die leerders en personeel te begelei tot hardwerkendheid en ‘n positiewe werksetiek.
  • RESPEK vir onsself, ander, die omgewing en skooleiendom.
  • BETROUBAARHEID in die uitvoer van alle take en opdragte.
  • PROFESSIONELE OPTREDE deur alle partye wat die positiewe beeld van die skool sal uitlig.
  • DISSIPLINE vorm die hoeksteen van onderrig en karakterbou en moet op alle terreine toegepas word.
  • DANKBAARHEID vir al die geleenthede wat ons geniet, sodat ons die voorregte waaraan ons deel kan hê, kan waardeer en barmhartigheid teenoor die minderbevoorregtes kan toon.