Riebeeckrand onder top 10 by SA Kampioenskappe

In 2017 was die eerste Fast Five netbaltoernooi aangebied en Riebeeckrand was een van die skole wat deelgeneem het. Die dogters het verlede jaar uitstekend gevaar al was dit vir hulle ‘n onbekende gebied.

Vanjaar het ons vier spanne ingeskryf om weer aan die toernooi deel te neem en hulle het weereens uitstekend gevaar. Die 0/18-span het 4de by die Gauteng Kampioenskappe geëindig. Die dogters het 1-4 Oktober aan die SA Kampioenskappe deel geneem te Izak Steyl Stadium in Vanderbijlpark. Dié top span het 9de uit 20 skole geëindig by die SA kampioenskappe.

Ons is baie trots op die dogters en hul afrigter me. Suzanne Tiedt. Die top span bestaan uit: Danielle Malan, Surika Pretorius, Danielle Olivier, Melouise Mulder, Sharné Landman, Elisma Pio, Eztia Saunders, Jessica Joubert, Mantiki Makayi en Chriske Hechter.

 

Fast Five Netbal 2017

 

2 Riebeeckranders deel van Proteaspan Boogskiet Proteaspan 2017

Ons spog graag met ons boogskietleerders wat vanjaar uitstekend vaar. Dié sportsoort het oor die laaste paar jaar toenemend gegroei en al hoe meer leerders neem nou aan Boogskiet deel. Die leerders ontvang uitstekende afrigting en hul prestasies weerspieël dit.

Op 4-9 Oktober het 7 Riebeeckranders aan die Nasionale Boogskiet Kampioenskappe te Port Elizabeth deelgeneem. Die Gauteng boogskietspan bestaan uit 16 leerders waarvan 7 leerders trotse Riebeeckranders is. Francois Martins, Megan Robins, Jacques de la Rouviere, Keana Clarke-Helkett, Jayden Esterhuizen, Janell Rossouw en Morné de la Rouviere is die 7 leerders wat Riebeeckrand tydens die Nasionale Kampioenskappe verteenwoordig het.

Megan Robins het tydens die kampioenskappe ‘n 1ste plek behaal onder die gr.11-dogters en ‘n 2de plek Nasionaal. Keanen Clarke-Helkett het ‘n 2de plek behaal onder die gr.8-seuns. Megan Robins en Francois Martins is in die Proteaspan opgeneem en gaan volgende jaar aan die Afrika- en Wêreldkampioenskappe deelneem.

Riebeeckrand is ongelooflik trots op Megan en Francois asook op elke skut wat deur die loop van die jaar hul beste gelewer het.

 

Randfontein gons oor Riebeeckrand se puik Musiekblyspel

Riebeeckrand het op 26 Oktober Randfontein se bejaardes met ‘n gratis vertoning van hul Musiekbyspel “Rocky” bederf. Die skool se juniorraad het die tafels prentjie mooi gedek en die bejaardes met heerlike vingerhappies, koek en tee bedien waaraan hulle kon smul tydens die vertoning. Die leerders het soveel moeite gedoen en die bejaardes op hul hande gedra.

Vanjaar se musiekblyspel is weereens uit die boonste rakke en ‘n goeie vertoonvenster van die skool se talentvolle leerders en personeel. Met uitstekende spel deur die hoofkarakters, pragtige sang en puik gechoreografeerde danse, was die gehoor meegevoer na die fantasie wêreld van ‘n mal professor en sy kasteelgenote. Die lekker humor in die produksie sal die gehoor vir seker bybly.

Die regie en teks is deur een van ons personeellede, me. Leona Esterhuyse, geskryf. Die leerders wat deel was van die produksie het dit baie geniet en kan nie wag vir die volgende musiekblyspel nie.

musical 2017 2  musical 2017 1

Picture 8006sd  Image1751

 

Riebeeckrander deel van Gauteng-Wes KrieketspanGautengwes krieket 2017

Riebeeckrand se onderskeie krieketspanne vaar uitstekend. Nie net vaar die spanne goed nie maar ook individuele spelers. Tien van ons leerders het aan die eerste ronde proewe, vir die 0/15 Gauteng-Wes Krieketspan, deelgeneem. Vier het deurgedring na die tweede ronde proewe, naamlik Petrie du Toit, Stefan Smit, Waldo Thiart en Theart Visagie.

Die verskeie rondes proewe was uitdagend en die seuns het ten alle tye hul beste gegee. Slegs 28 seuns kon deurdring na die finale ronde proewe waarvan twee seuns trotse Riebeeckranders is. Ons is baie trots op Stefan Smit en Theart Visagie wat deurgedring het tot die finale ronde proewe.

Riebeeckrand se hart loop oor van trots en ons spog graag met Theart Visagie wat in die 0/15 Gauteng-Wes Krieketspan opgeneem is. Theart sien daarna uit om sy spel te verbeter en om die res van die krieketseisoen ten volle te geniet.