Kultuur is Riebeeckrand se passie

Hoërskool Riebeeckrand is al jare bekend vir baie veelsydige kultuurtalent en hope kultuuraktiwiteite wat aangebied word.

Vanjaar maak ons weer geskiedenis met sovele kultuurprestasies en deelname. Gedurende Juliemaand het twee toneelgroepe, Verlore Generasie en Bomskok, aan die Hoërskool Noordheuwel Toneelfees deelgeneem. Verlore Generasie was in die top 6 van dié toneelfees en het teen groot skole soos Helpmekaar, Menlopark en Potch Gimnasium meegeding.

Dié twee toneelgroepe het ook aan die ATKV-tienertoneel deelgeneem, en altesaam met 27 toekennings weggestap. Hulle het ook ‘n A en ‘n A+ by Op Die Planke Toneelfees verower.

Ons spog graag met ons vier top toneelafrigters, mee. Annelize Erasmus, Varuska Denysschen, Leona Esterhuyse en Sanette Smith. Dié vier personeellede kweek ‘n liefde vir kultuur onder die leerders en ontgin talente wat die gehoor verbaas en vermaak.

Bomskok  Toneel afrigters 2018  Verlore Generasie

Riebeeckrand het ‘n omgeehart

Hoërskool Riebeeckrand het op 18 Julie hulle 67 minute vir Mandela Dag met ‘n omgeehart spandeer. Ons klas-VRL se dagbestuur, Victor Basson, Franco Venter en Erishe Visagie, het die karwagte en minderbevoorregtes in ons dorp met ‘n warm koppie koffie bederf.

Dit is dikwels snerpend koud buite en die karwagte staan elke dag getrou op hulle pos om ons karre op te pas terwyl ons met ‘n geruste hart inkopies doen. Dit was vir ons lekker om terug te ploeg in die gemeenskap en om ‘n glimlag op ons medemens se gesig te sien wanneer hulle met dankbaarheid die koffie ontvang.

Ons sien daarna uit om volgende jaar weer 67 minute terug te ploeg in ons gemeenskap. Ons leerders geniet dit en word verryk deur sulke ervarings.

67 minute 4  67 minute 1  67 minute 2

67 minute 3  67 minute 5  67 minute 6

Riebeeckrand rugby ligawenners Ligawenners web 2018

Ons rugbyspanne vaar uitstekend! Ons 1ste-rugbyspan glimlag vanjaar van oor tot oor, en spog met trots met hul groot prestasie as ligawenners!

Riebeeckrand het Saterdag, 14 Junie, teen Leeuwenhof Akademie in die finaal gespeel en die spanningvolle wedstryd met ‘n telling van 34-29 gewen. Die 1stes en die o/16’s, wat 3de in hul liga geëindig het, speel op 28 Julie in die Virseker Beker kompetisie. Riebeeckrand se groot rugbyborg, Mapogo Security, het die seuns op 22 Junie met ‘n ontbyt bederf om hul oorwinning te vier.

Die 1ste-span het gedurende hul seisoen 20 wedstryde gespeel waarvan hulle 13 wedstryde gewen het. Hul top oorwinningswedstryde was teen Jan Viljoen waar Riebeeckrand vir die tweede agtereenvolgende jaar as die wenners uitgetree het, teen Linden waar Riebeeckrand hul 27-26 klop, teen Dinamika met ‘n telling van 25-17 en die liga se finaal teen Leeuwenhof waar Riebeeckrand as die ligawenner gekroon is.

Bo en behalwe vir die span se uitsonderlike prestasies, is die 1ste-span se kaptein, Christoff Kleyn, in die Goue Leeus Akademie XV opgeneem. Ons wens die seuns en hul afrigter, mnr. Stephan Earle, geluk met hul pragtige prestasie. Ons is ook baie trots op Christoff en wens hom alle sterkte toe met sy rugbyloopbaan.

Riebeeckrander deel van D2/D12-hokkiespan Owethu hokkie 2018

Hoërskool Riebeeckrand is baie trots op Owethu Bobo wat vir die tweede agtereenvolgende jaar in die D2/D12-hokkiespan opgeneem is. Riebeeckrand wens Owethu voorspoed toe met al sy Suid-Gauteng hokkiewedstryde wat nog voorlê. Ons is ook baie trots op Leruchka de Villiers en Amoné Erasmus wat vanjaar na die tweede ronde D2/12 hokkieproewe vir 0/18’s deurgedring het.

Ons is baie trots op ons eie hokkiesterre!