Riebeeckrand verwelkom nuwe adjunkhoofAdjunkhoof Mnr Maartens

Ons stel met trots ons nuwe adjunkhoof aan Randfontein voor.

Mnr. Hannes Maartens het aan die begin van die 4de kwartaal by sy alma mater aangesluit en reeds diep spore getrap. Mnr. Maartens is self ‘n ouer van drie volwasse kinders en is 30 jaar met sy eggenoot, wat self ook in die onderwys is, getroud.

Mnr. Maartens, wat aan Hoërskool Riebeeck in 1984 gematrikuleer het, het sy tersiêre kwalifikasies aan Normaalkollege Pretoria en die Randse Afrikaanse Universiteit (UJ) behaal.

Na sy weermagopleiding het hy by Hoërskool Monument skoolgehou. Daarna was hy die hoof van onderwys en opleiding by Korrektiewe dienste in Krugersdorp waarna hy later sy horisonne vir 16 jaar in die privaatsektor verbreed het. Net na sy hertoetrede tot die onderwys, is hy as adjunkhoof na Hoërskool Carletonville bevorder waar hy vyf jaar waarde tot die gemeenskap toegevoeg het.

Buiten sy spesialiseringsvak, Ingenieursgrafika en Ontwerp, is sy passie op sportgebied om rugby af te rig. Mnr. Maartens het baie moed vir die jeug van vandag. Sy wens vir elke leerder wat sy pad kruis, is dat hulle besef: ‘n gedissiplineerde lewe is nodig om die eise wat die lewe aan elkeen stel, te bemeester.

Ons wens Mnr. Maartens ‘n vreugdevolle en geseënde onderwysloopbaan by Riebeeckrand toe.

Riebeeckrander ‘n top ruiterPerdry Sunica 2018

Sunica van Wyk, ‘n gr.10-leerder, het gedurende die Oktober skoolvakansie Riebeeckrand en Gauteng by die SANESA Western Mounted Games in Parys verteenwoordig.

Sunica het ‘n 2de plek in Suid Afrika behaal vir Reserwe Kampioen Vlak 4. Daar was altesaam 30 ruiters in dié afdeling. Sy glimlag van oor tot oor oor haar 2de plek wat sy in Suid Afrika behaal het. Sunica het ook talle ander prestasies ingepalm. Sy het ‘n 1ste plek in Poles 1 behaal, ‘n 2de plek in Poles 2, ‘n 3de plek in Big T en Quadrangle, ‘n 4de plek in Birangle en ‘n 5de plek in Barrel Race. Sy het ook saam met haar span ‘n prestasie behaal: algehele Hoërskool Span B wenners Vlak 4.

Riebeeckrand is baie trots op Sunica en haar uitmuntende prestasies. Dit is wonderlik om te sien hoe leerders hul talente uitleef en floreer.

Sprokie-afskeid vir matrikulante

Matriekafskeid 2018 1  Matriekafskeid 2018 4  Matriekafskeid 2018 3

Riebeeckrand se matrikulante het op 4 Oktober 2018 hul matriekafskeid by Usambara gehou.

Die matrikulante het almal spoggerig gelyk en die toeskouers se asems weggeslaan met hul aankoms op die rooitapyt. Dit was omtrent ‘n Hollywood ervaring vir die matrikulante met al kameras wat flits en toeskouers wat hul toejuig soos hul arriveer en op die rooitapyt na binne stap.

Drie van ons dogters was ook deur die televisiespan van VIA kanaal 147 verfilm vir die program My Matriekafskeid. Die televisiespan was al vroegoggend besig met die verfilmingproses. Hulle het seker gemaak hul vang elke liewe oomblik vas. Mede-matrikulante was ook deur die loop van die aand verfilm waar hulle die geleentheid gekry het om hul matriekafskeidervaring op kamera te deel.

Die matrikulante het die aand omgedans en heerlik gekuier en gesmul aan ‘n driegang maaltyd. Ons skoolhoof, me. Annelize van den Berg, het gesê Riebeeckrand het werklik die mooiste en stylvolste leerders en sy is baie trots op al die matrikulante! Met groot afwagting word daar uitgesien om op 19 November na die uitsending van My Matriekafskeid op VIA kanaal 147 om 20:30 te kyk, waarin die drie pragtige Riebeeckranders gaan verskyn.

Riebeeckrand – puik Kultuurskokvertoning

Riebeeckrand het vanjaar ‘n Kultuurskok vertoning aangebied waarin al ons kultuuritems verskyn het. Dié vertoning was uit die boonste rakke en is ‘n goeie vertoonvenster van die skool se talentvolle leerders en personeel. Met die groot verskeidenheid dans-, sang- en drama-items was die gehoor meegevoer en deurentyd vermaak.

Op 25 September was Randfontein se bejaardes met ‘n gratis vertoning bederf. Die skool se juniorraad het die tafels prentjiemooi gedek en die bejaardes met heerlike vingerhappies, koek en tee bedien waaraan hulle kon smul tydens die vertoning. Die leerders het soveel moeite gedoen en die bejaardes op hul hande gedra.

Op 27 September was daar ook ‘n Toneel-tableau gehou waartydens die twee toneelgroepe, Bomskok en Verlore generasie, hul uitmuntende tonele opgevoer het. Dié toneelgroepe het al talle pryse ingepalm deur die loop van die jaar. Dit was ‘n besondere geleentheid vir ouers en ondersteuners, en word daar nou met groot afwagting uitgesien na 2019 se tonele.

Ons sien daarna uit om volgende jaar weer ‘n stampvol saal te vermaak.

Kultuurskok 1  Kultuurskok 3

Kultuurskok 4  Kultuurskok 2