Riebeeckrand - 'n dinamiese skool in Randfontein Poort 2021
Hoërskool Riebeeckrand is ‘n dinamiese hoërskool in Randfontein. Riebeeckrand is ryk aan geskiedenis, tradisies en waardes en streef vandag nog hul visie en missie na. Vanjaar vier hulle hul 25ste bestaansjaar en is steeds ‘n baken van hoop in ons gemeenskap.

Die Riebeeckrand-familie is daarop gerig om sy leerders te ontwikkel en te vorm tot die beste weergawe van hulself, sodat hulle met hoop die toekoms kan begin. Riebeeckrand bied vir hul leerders ‘n skatkis vol aktiwiteite waaraan hulle kan deelneem. Daar word uitmuntende sport-, kultuur- en akademiese prestasies jaarliks ontvang.

Riebeeckrand het ‘n totaal van 15 sportsoorte waaraan leerders kan deelneem, 11 kultuuraktiwiteite en fantastiese vakkeuses wat vir leerders ‘n breë spektrum van studie- en beroepskeuses bied.

Op die sportveld en kultuurgebied leef die onderwyser hul in met die afrigting en streef net na die beste vir hul leerders. Riebeeckrand beskik oor 2 rugbyvelde, 2 hokkievelde, 7 netbalbane, ‘n krieketveld en oefennette, jukskeibane, ‘n boogskietbaan, ‘n atletiekbaan asook ‘n volledige toegeruste gimnasium. Kultuur is ook hoog op Riebeeckrand se prioriteitslys en val gereeld onder die Top 10 van die NEA, RACA en talle ander kompetisies.

Die personeel investeer in hul leerders. Hulle gee om vir die leerders en leerders ontvang topgehalte onderrig. Akademiese struikelblokke word oorkom deur verskeie gratis ekstra klasse wat weekliks aangebied word. Alle klasse is toegerus met dataprojektors en tegnologiese toerusting soos visualiseerders en 2 interaktiewe witborde word gebruik wat die onderrig-leerproses vergemaklik.

Riebeeckrand glo daarin om ‘n goeie balans te handhaaf en daarom is sosiale aktiwiteite soos pretdae, geesvangsessies, valentynsbal, lentebal en Mnr. & Mej. Riebeeckrand ook belangrike gebeurtenisse. Riebeeckrand streef daarna om hul skoolomgewing vir hul leerders ‘n tweede tuiste te maak, waar hulle hard kan werk en ook pret kan hê.

Riebeeckrand verleen gereeld ‘n helpende hand na die gemeenskap, hetsy dit ‘n gebaar van hoop is of self ‘n bydrae is wat gelewer word. Die Riebeeckrand-familie ploeg graag terug in die gemeenskap en is trots om deel van Randfontein te wees.

Maak Hoërskool Riebeeckrand deel van jou kind se hoërskoolloopbaan. Dit is hier waar elke leerder gevorm word, waar herinneringe gebou word en ‘n blink toekoms verseker word.