Riebeeckrandpersoneel ook nou ingeënt
Hoërskool Riebeeckrand se personeel was opgewonde om hul inentings te ontvang. Die gewag in ‘n lang ry was definitief die moeite werd. Sommige personeellede was wel skrikkerig, maar ander was bly die lang gewag vir ‘n inenting is verby. Me. Letsie Grobler beskryf haar inentingervaring as ‘n pynlose en aangename ervaring. "Die suster wat my ingeënt het, was baie behulpsaam. Sy het die proses baie mooi aan my verduidelik asook watter newe effekte ek na die tyd kan ervaar en watter medikasie ek daarvoor kan gebruik." Me. Tianie Barnard was wel vooraf op haar senuwees gewees, maar na die tyd dankbaar dat sy wel die inenting ontvang het. Vir haar is dit belangrik om die leerders en haar kollegas veilig te hou en dié inenting bied aan ‘n mens daardie geleentheid. Sy sê "Die virus eis mense se lewens en ons moet saamstaan om mekaar veilig en gesond te hou." Me. Livia du Plooy het reeds maande gelede besluit dat sy ingeënt wil word en was bly dat sy nou die geleentheid gekry het.

Meeste personeellede het ligte newe-effekte ervaar soos naarheid, koors, kopseer en lyfseer, maar was na ‘n dag weer hul ou self. Personeellede was in tydsgleuwe ingedeel vanaf 23 – 25 Junie asook op 28 Junie om hul inentings by Greenhills Sportstadion te ontvang.

Me. van den Berg is saam met haar personeel dankbaar dat hul die inenting kon ontvang en op die manier die skoolomgewing kan beveilig. Dit is die eerste stap om die verspreiding van die virus te bekamp. Sanitering, hou van sosiale afstand en die dra van maskers bly steeds die goue reëls, Riebeeckrand het en sal dit steeds getrou nakom.