kykNet toneelspelkompetisie - Top 3
Hoërskool Riebeeckrand het vanjaar drie leerders gehad wat finaliste was van die kykNet nasionale toneelspelkompetisie. Meer as 600 leerders landswyd het oudisies afgelê waarvan slegs 82 finaliste gekies was om in Kaapstad verder mee te ding. Rick van den Berg, Junior Khumalo en Dallyn Windvogel was die talentvolle drie Riebeeckranders wat deur gedring het om verder in Kaapstad te gaan meeding.

Tydens die 1ste rondte moes al 82 finaliste ‘n monoloog opvoer asook ’n improvisasie-stuk. Na die 1ste rondte het slegs 32 leerders deurgedring na die 2de rondte waarvan Rick van den Berg en Dallyn Windvogel deel was. Leerders moes hier hul prosa en gedig opvoer om ‘n plek in die 3de rondte los te slaan. Dyllan was een van 16 leerders wat deurgedring het na die 3de rondte.

Die 3de rondte was gevul met opwinding en groot uitdagings. Die top 16 leerders moet tydens dié rondte ‘n radiodrama en televisiedrama uitspeel. Die televisiedrama het op die stel van die bekende sepie “Suidooster” plaasgevind. Na afloop van die 3de rondte was daar ‘n top 8 aangekondig wat voor ‘n gehoor hul monoloog, prosa en gedig moes opvoer. Dié opvoerings het bepaal wie in die top 3 sal wees.

Met groot opwinding en trots deel Riebeeckrand dat een van hul leerders, Dallyn Windvogel, in die top 3 van die groot nasionale toneelspelkompetisie geëindig het. Dallyn het ook ‘n toekenning ontvang vir die beste prosa en hy het ook ‘n rol in ‘n radiodrama gekry wat in 2022 op Bok-radio uitgesaai gaan word. Junior Khumalo het ‘n toekenning ontvang vir die belowenste kandidaat uit al 82 finaliste wat deelgeneem het.

Riebeeckrand is ongelooflik trots op dié drie leerders wat so goed gevaar het.

 

kykNet toneelspel 2021

Junior Khumalo & Dallyn Windvogel.