Riebeeckrand verwelkom nuwe adjunkhoof 
Hoërskool Riebeeckrand verwelkom hul nuwe adjunkhoof, mnr. Bernard Esterhuizen, en stel hom graag aan die Randfonteingemeenskap voor. Mnr. Esterhuizen is ‘n onderwyser met ‘n positiewe uitkyk op die lewe. Hy pak alles in die lewe voluit aan en skeep niks af nie. Sy geheime wapen waarmee hy alles aanpak, is sy geordenheid en sy lewensleuse wat in die Engelse gesegde “Bless it with your patience” vasgevang word.

Mnr. Esterhuizen het ‘n groot passie vir kinders en rugby. Hy het sy onderwysloopbaan in 2010 begin. Ekonomie, Besigheidstudies en RTT is vakke waarvan hy baie kennis dra en graag aanbied. Naas skoolgee lê rugby hom na aan die hart. Hy is baie opgewonde om betrokke te raak by Rieebeeckrand se rugby-afrigting.

Mnr. Esterhuizen glo dat hy by Riebeeckrand geplaas is om ‘n verskil te maak en sien daarna uit om die skool te help groei, maar dit kan net gedoen word as ons aan die leuse van die skool klou, naamlik “Geanker in geloof”. Die Riebeeckrand-familie sien daarna uit om 2021 saam met mnr. Esterhuizen aan te pak.

Bernard Esterhuizen