Riebeeckrand verwelkom nuwe adjunkhoofAdjunkhoof Mnr Maartens

Ons stel met trots ons nuwe adjunkhoof aan Randfontein voor.

Mnr. Hannes Maartens het aan die begin van die 4de kwartaal by sy alma mater aangesluit en reeds diep spore getrap. Mnr. Maartens is self ‘n ouer van drie volwasse kinders en is 30 jaar met sy eggenoot, wat self ook in die onderwys is, getroud.

Mnr. Maartens, wat aan Hoërskool Riebeeck in 1984 gematrikuleer het, het sy tersiêre kwalifikasies aan Normaalkollege Pretoria en die Randse Afrikaanse Universiteit (UJ) behaal.

Na sy weermagopleiding het hy by Hoërskool Monument skoolgehou. Daarna was hy die hoof van onderwys en opleiding by Korrektiewe dienste in Krugersdorp waarna hy later sy horisonne vir 16 jaar in die privaatsektor verbreed het. Net na sy hertoetrede tot die onderwys, is hy as adjunkhoof na Hoërskool Carletonville bevorder waar hy vyf jaar waarde tot die gemeenskap toegevoeg het.

Buiten sy spesialiseringsvak, Ingenieursgrafika en Ontwerp, is sy passie op sportgebied om rugby af te rig. Mnr. Maartens het baie moed vir die jeug van vandag. Sy wens vir elke leerder wat sy pad kruis, is dat hulle besef: ‘n gedissiplineerde lewe is nodig om die eise wat die lewe aan elkeen stel, te bemeester.

Ons wens Mnr. Maartens ‘n vreugdevolle en geseënde onderwysloopbaan by Riebeeckrand toe.